Laerskool Lynnwood – Tegnologie-ooreenkoms vir Leerders
1. Doel van hierdie ooreenkoms
Hierdie ooreenkoms beskryf hoe jy as leerder van Laerskool Lynnwood die skool se rekenaars, internet en ander tegnologie mag gebruik. Dit is daar om jou te beskerm, veilige leeromgewings te skep en seker te maak dat almal verantwoordelik optree. Elke leerder en hul ouer/voog moet hierdie ooreenkoms lees en onderteken voordat toegang tot enige skoolrekenaars of -netwerke gegee word.
2. Gebruik van rekenaars en rekenaarsentrums
- Rekenaar- en e-leersentrums is net vir opvoedkundige gebruik.
- Jy mag nie speletjies speel, video’s kyk of enige ander vorm van vermaak gebruik nie.
- Jy mag nie instellings op rekenaars verander, sagteware aflaai of lêers uitvee nie.
- Jy moet altyd netjies en respekvol werk — geen kos of drank (water, koeldrank, koffie of enige ander vloeistof) mag naby die rekenaars kom nie.
- Jy mag slegs toegang hê tot webwerwe wat deur jou onderwyser goedgekeur is.
- Jy mag nie jou eie toestelle (soos fone, tablets of rekenaars) koppel aan die skool se netwerk of kragpunte sonder toestemming nie.
- Wanneer jy klaar is, maak seker dat jy by jou rekenaar afteken en dat jou werk veilig gestoor is.
3. Internet en WiFi
- Internetgebruik is slegs vir leer en skoolprojekte onder toesig van ’n onderwyser.
- Jy mag nie probeer om webwerwe te besoek wat deur die skool geblokkeer is nie.
- Die gebruik van VPN’s, “proxies” of enige metode om sekuriteitsfilters te omseil is streng verbode.
- Jy mag nie die skool se WiFi gebruik nie — toegang tot WiFi is net vir personeel.
- Enige poging om die WiFi-wagwoord te kry of te deel is ’n ernstige dissiplinêre oortreding.
4. Gebruik van eie toestelle
- Jy mag slegs jou selfoon of ander persoonlike toestelle na die skool bring en gebruik volgens die skool se amptelike selfoonbeleid (sien volgende afdeling).
- Jy mag nie self jou toestel aan die skool se internet of netwerke koppel nie.
- Die skool is nie verantwoordelik vir verlies, diefstal of skade aan persoonlike toestelle nie.
5. Selfoonbeleid
Hier volg die skool se amptelike selfoonbeleid.
BELEID: LEERDERS MET SELFONE OP SKOOLTERREIN
Die skool erken dat selfone 'n belangrike en nuttige manier van kommunikasie is, maar ons is ook bewus van die feit dat die gebruik en misbruik, veral deur kinders, sosiale, etiese en veiligheidsgevolge kan inhou.
Die skool neem nie verantwoordelikheid vir die diefstal of verlies van enige selfoon wat skool toe gebring word nie, maak nie saak wat die omstandighede of rede is nie. Dit sluit in die verlies of diefstal van selfone wat gekonfiskeer is van leerders wat hulle gebruik in weerwil van die skool se reëls.
Die skool sal in beginsel onder geen omstandighede met die ouers in gesprek tree oor klagtes wat gedurende die skooldag van hul kinders oor selfone ontvang is nie.
Die volgende sal geld vir leerlinge wat daarop aandring om 'n selfoon by die skool te hê:
- Selfone word op eie risiko skool toe gebring.
- Selfone by Laerskool Lynnwood moet tydens skoolure afgeskakel en weggebêre wees, hetsy binne in ʼn skooltas of sportsak. Selfone mag ook nie tydens pouses aangeskakel word nie. Indien leerders selfone gedurende skoolure gebruik, sal die selfoon dadellik gekonfiskeer word.
- Die betrokke onderwyser wat die selfoon gekonfiskeer het, sal die leerder aanspreek en die onderwyser sal die selfoon daarna terugbesorg. Nadat die leerder aangespreek is sal die leerder ‘n inskrywing op sy dissiplineverslag ontvang.
- Indien ʼn leerder vir ʼn tweede keer aangespreek word oor ʼn selfoon wat aangeskakel is tydens skoolure, sal die selfoon gekonfiskeer word en by Dissiplinehoof ingehandig word. Die leerder sal weer ʼn inskrywing op sy dissiplineverslag ontvang. Die selfoon sal aan die einde van die dag aan die betrokke leerder terugbesorg word.
- Indien ʼn leerder vir die derde keer met ʼn aangeskakelde selfoon betrap word, sal die selfoon gekonfiskeer word. Die selfoon sal by die Dissiplinehoof ingehandig word waarna die ouers gekontak sal word. Die ouer/s sal die selfoon by die Dissiplinehoof uitteken. Die betrokke leerder sal NIE weer toegelaat word om ʼn selfoon skool toe te bring NIE.
- Pornografie op selfone – ouers word dadelik gekontak- dissiplinêre prosedure volg
- Indien dit onder die skool se aandag gebring word dat leerders van Laerskool Lynnwood na-ure ongewensde boodskappe, prente of video materiaal op enige sosialemediaplatform vir mekaar stuur, sal die Adjunkhoof Ondersteuningsdienste of Skoolhoof die saak onmiddelik binne die skool se Dissiplinebeleid en Boeliebeleid hanteer.
Wenke aan onderwyser t.o.v ongewensthede op selfone
- Bly kalm
- Onttrek leerder dadelik
- Bespreek probleem dadelik met leerder in teenwoordigheid van dissiplinehoof of gee oor aan dissiplinehoof.
- Dissiplinehoof skakel ouer en bespreek. Indien ʼn hoër vlak vaningryping nodig is, sal die Skoolhoof of dissiplinêre komitee genader word
- Die leerder ontvang ‘n inskrywing op sy dissiplineverslag.
6. Aanlyn gedrag en veiligheid
- Wees respekvol teenoor ander wanneer jy aanlyn is of e-pos gebruik.
- Moenie aanstootlike, gewelddadige, diskriminerende of pornografiese inhoud besoek, deel of aflaai nie.
- Moet nooit iemand anders se wagwoord gebruik of jou wagwoord deel nie.
- As jy iets aanstootlik of gevaarlik aanlyn sien, meld dit onmiddellik aan jou onderwyser.
7. Dissiplinêre stappe
Ek verstaan dat as ek hierdie reëls oortree, die volgende kan gebeur:
- Ek kan my reg tot toegang tot rekenaars en internet by die skool verloor.
- My ouers sal ingelig word.
- Ek kan dissiplinêr aangekla word volgens die skool se gedragskode.
