Laerskool Lynnwood – Rekenaar- en Tegnologie-ooreenkoms

1. Doel

Hierdie ooreenkoms is ’n bindende dokument tussen Laerskool Lynnwood en alle personeellede wat van die skool se inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) gebruik maak.

Dit sluit die gebruik in van:

  • Skooltoerusting bv.
    • rekenaars,
    • skootrekenaars,
    • projektors,
    • drukkers,
    • netwerktoestelle,
    • mobiele toestelle,
    • ens.
  • Skooldienste en -platforms bv.
  • Rekenaarsentrums en
  • Internettoegang.

Die doel van die ooreenkoms is om:

  • Veiligheid van data en toerusting te beskerm.
  • Wettige en etiese gebruik van die skool se tegnologie te verseker.
  • IT-ondersteuning ordelik en deursigtig te maak deur gebruik van www.myklas.co.za as die enigste amptelike IT-portaal.

2. Persoonlike verantwoordelikheid

Ek verstaan en aanvaar dat:

  • Alle skooltoerusting die eiendom van die skool bly en net vir opvoedkundige en administratiewe doeleindes gebruik mag word.
  • Ek verantwoordelik is vir die veilige gebruik en bewaring van enige toerusting wat aan my toevertrou is.
  • Ek die toerusting sal beskerm teen verlies, skade of diefstal en enige voorval onmiddellik by die IT-kantoor en bestuur sal aanmeld.
  • Ek verantwoordelik kan wees vir kostes wat voortspruit uit nalatigheid (bv. as ’n toestel in ’n motor agtergelaat word en gesteel word).

3. Wagwoorde en netwerksekuriteit

  • Ek sal slegs my eie gebruikersnaam en wagwoord gebruik en dit vertroulik hou.
  • Ek sal nie iemand anders se wagwoord gebruik of toegang tot lêers probeer kry waarvoor ek nie gemagtig is nie.
  • Ek verstaan dat hacking of onwettige toegang tot enige stelsel ’n dissiplinêre en moontlik kriminele oortreding is.
  • Ek sal toestelle beskerm met toepaslike sekuriteit (bv. antivirus wat deur die skool goedgekeur is en op datum gehou word).

4. Internet en aanlyndienste

  • Ek sal die internet en ander skooldienste net vir opvoedkundige of werkverwante doeleindes gebruik.
  • Ek sal nie toegang probeer kry tot aanstootlike, onwettige of geblokkeerde webwerwe nie.
  • Ek sal nie VPN’s, proxies of ander maniere gebruik om sekuriteitsfilters te omseil nie.
  • Ek aanvaar dat internet- en netwerkgebruik deur die IT-afdeling gemonitor kan word.

5. Sagteware en aankope

  • Ek sal geen ongemagtigde sagteware op skooltoerusting installeer nie.
  • Alle hardeware- of sagtewareaankope vir skoolgebruik moet deur die IT-kantoor goedgekeur word.
  • Indien ek persoonlike sagteware benodig, sal ek dit slegs op my eie toestel installeer.

6. Gebruik van persoonlike toestelle (BYOD)

  • Persoonlike toestelle (bv. selfone, tablette, skootrekenaars) mag slegs op die skoolnetwerk gebruik word indien dit deur die IT-kantoor geregistreer en veilig is.
  • Ek aanvaar volle risiko vir verlies of skade aan enige persoonlike toestel.
  • Ek sal nie my persoonlike toestel gebruik om inhoud te versprei wat teen die skool se beleid is nie.

7. Sosiale media en aanlyn kommunikasie

  • Ek sal aanlyn professioneel en respekvol optree.
  • Ek sal nie leerders op privaat sosiale media platforms aanvaar of kontak nie.
  • Ek sal slegs WhatsApp- en Teams-groepe gebruik wat deur die skool goedgekeur is.

8. Teruggee van toerusting

  • Indien ek uit diens tree, aftree of ontslaan word, sal ek alle skooltoerusting ongeskonde teruggee.
  • Indien ek kies om ’n toestel te koop, sal ek die skool se glyskaal en voorwaardes aanvaar indien die skool die opsie aan my bied. Ek aanvaar dat die skool as eienaar van die toerusting die eerste opsie het om die toerusting self te behou.

9. Monitering en dissipline

  • Ek verstaan dat die skool die reg het om enige gebruik van sy IKT-stelsels en toestelle te monitor, op te neem en toegang te beperk.
  • Ek aanvaar dat die oortreding van hierdie ooreenkoms dissiplinêre stappe en moontlik regsgevolge kan hê.

10. Gebruik van rekenaarsentrums

  • Personeel is verantwoordelik vir die toesig en veiligheid van leerders wanneer die rekenaarsentrums gebruik word.
  • Leerders mag onder geen omstandighede die rekenaarsentrums gebruik om speletjies te speel, videos te kyk of enige ander vorm van vermaak te geniet nie.
  • Die rekenaars en internettoegang mag slegs vir opvoedkundige doeleindes aangewend word.
  • Die onderwyser wat van die lokaal gebruik maak, is verantwoordelik om toe te sien dat:
      • Alle leerders die reëls nakom.
      • Die lokaal na gebruik netjies en veilig gelaat word.
      • Deure en veiligheidshekke behoorlik gesluit is en die alarm geaktiveer word indien nodig.
  • Enige verlies, skade of veiligheidsbreuk as gevolg van nalatigheid kan tot dissiplinêre stappe lei.