Jy en jou rekenaar

Vermy verkeerde rekenaar besluiteOns almal benodig deesdae ‘n rekenaar om ons werk of skoolwerk te doen. Ons gebruik ons rekenaars om e-pos te stuur en ontvang, foto’s en video’s te verwerk, stoor en te kyk en nog vele meer. Die groot vraag is dus watter rekenaar is die regte koop vir jou of jou kind. Die antwoord op daardie vraag gaan vir elke persoon verskil en ek kan jou maar net help om aan ‘n paar goed te dink voor jy ‘n rekenaar aankoop.

Bepaal voor jy koop eers hoeveel jy op ‘n rekenaar kan of wil spandeer. Ons kan rekenaars aankoop van omtrent R6500 tot meer as R65 000. Bepaal dus eers wat jy kan bekostig en soek ‘n rekenaar in daardie prysklas. Wees dus realisties, indien jy 'n goedkoop rekenaar koop sal daar dinge aan die kwaliteit van die materiaal en werking van komponente wees wat jjou werkvloei kan beïnvloed.

Die meeste mense kyk altyd dadelik na die spesifikasies. Daar word veralgemeen en gesê hoe meer geheue (RAM) of hoe groter die hardeskyf is hoe beter. Ongelukkig, is dit nie so eenvoudig nie. Ek sal enige dag ‘n kleiner hardeskyf neem as ek ‘n vinniger SSD hardeskyf kan kry bo ‘n gewone stadige hardeskyf. Jy sal ook baie minder geheue RAM benodig as jy gebruik maak van ‘n Mac as ‘n Windows rekenaar. Die verwerker van die rekenaar speel ook 'n baie groot rol. Moenie 'n rekenaar koop met 'n i3 verwerker as jy dit gaan gebruik om inhoud te skep met woordverwerkers, foto verwerking of video verwerking nie. Ky ten minste na 'n i5 of i7 as jy 'n windows rekenaar gaan koop. Enige Mac sal hierdie take met gemak hanteer.

Dit maak nie saak watter bedryfstelsel jy verkies nie. Die meeste mense gebruik Windows want dit is al wat hulle ken. Ek maak ‘n punt daarvan om gereeld met verskillende bedryfstelsels te eksperimenteer. Dit is nie altyd vir ander mense moontlik nie. Maar die feit dat ek gereeld met MacOS, Windows en verskeie Linux variante speel maak dat ek bewus is wat die beste in my werkvloei inpas. Bepaal hoe jou werkvloei is en water programme jy benodig om daardie werkvloei so effektief as moontlik te kan doen. Die meeste programme wat beskikbaar is vir Windows is ook beskikbaar vir MacOS en jy kan selfs Windows op jou Mac laai indien jy jou vasloop in iets wat jy benodig wat nie ‘n Mac weergawe het nie. Jy kan egter nie Mac programme op jou windows rekenaar laai nie.

Goeie antivirussagteware is nie eens onderhandelbaar nie. Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy ‘n nuwe rekenaar kry is om goeie antivirus sagteware op die rekenaar te laai. Jy moet nooit gebruik maak van gratis antivirus sagteware nie. Ek het al meer virus en malware skade probeer herstel op mense se rekenaar wat van gratis antivirussagteware gebruik maak as rekenaars met geen antivirus sagte ware. Daar is baie anti virus sagte ware en ek lees maar gereeld artikels oor die onderwerp en kyk gereeld wat word beskou as die top 5. Ek persoonlik gebruik Kaspersky sagteware maar koop TrendMicro aan vir die skool.

Wanneer jy gebruik maak van ‘n program of webwerf wat van ‘n gebruikersnaam en wagwoord gebruik maak moet jy seker maak dat elke program of webwerf se gebruikersnaam en wagwoord uniek is. Elke gebruikersnaam en wagwoord moet ook aan streng vereistes voldoen. Ek het ‘n hele artikel oor hierdie onderwerp geskryf en stel voor dat jy die artikel lees.

Webwerwe

WebwerweDie internet is ‘n wonderlike plek wat vir alle mense ‘n omgewing skep war hulle oor enige onderwerp inligting kan laai of handel kan dryf. Dit is ook die internet se ondergang. Jy moet baie seker maak dat die webwerwe wat jy besoek wel is wie jy dink dit is, wel doen wat jy dink dit doen en jou inligting veilig berg en vernietig wanneer hulle dit nie meer benodig nie. Webblaaie wat besoek word is baie keer die bron van inligting wat onwettig versprei word, malware en virus sagteware wat onwetend op rekenaars gelaai word en nog vele ander gevare. Gebruik die internet versigtig.

Programme

Het jy al gewonder hoekom jou rekenaar of foon na ‘n tyd al stadiger begin werk en allerhande probleme begin gee. ‘n Groot oorsaak is die programme op jou rekenaar. Dit is hoekom daar normaalweg slegs een persoon in ‘n maatskappy is wat programme mag installeer op almal se rekenaars. Die meeste programme word deesdae van die internet afgelaai. Baie van die programme kom nie van die oorspronklike bronne af nie en in die installasie proses kan daar ander programme bygevoeg of kode in die programkode bygevoeg word wat skade kan aanrig aan jou rekenaar of inligting op jou rekenaar kan inwin. Baie mense sê daar is niks op hulle rekenaar wat van waarde vir iemand sal wees nie maar hulle besef nie altyd, indien iemand die sleutels wat jy druk as jy ou bank se gebruikersnaam en wagwoord inlees kan herwin kan hulle enige iets in jou bankrekening doen. Indien iemand jou gebruikersnaam en wagwoord vir jou e-pos kry kan hulle e-pos stuur aan almal in jou kontakte en hulle voordoen as jy. Wees versigtig as jy programme installeer. Verwyder ook programme van jou rekenaar wat jy nie gebruik nie. Baie van hierdie programme gebruik spasie en geheue op jou rekenaar wat sal maak dat jou rekenaar beter sal funksioneer as jy dit verwyder. Ek laai net die programme wat ek benodig op my rekenaar en verwyder alle ekstra programme selfs die wat deur die vervaardiger gelaai was. 

Kwaliteit

Die kwaliteit van die materiale waarmee die rekenaar vervaardig word speel ook ‘n groot rol. Die meeste goedkoop rekenaars is van goedkoop materiale en komponente vervaardig. So ‘n rekenaar gaan jou frustreer wanneer komponente nie reg werk nie. Die rekenaar sal ook makliker fisies breek aangesien die plastiek omhulsel en die raam binne in baie swak vervaardig is. Hierdie rekenaars breek gewoonlik by hul skarniere waar die skerm opmaak. Ek het al baie die argument gehoor dat mense sê hulle koop goedkoop rekenaars aangesien hulle behoeftes net iets is wat moet e-pos kan hanteer en moontlik MS Word dokumente kan opstel. Dit is ook gewoonlik hierdie gebruikers wat nie baie rekenaar vaardig is nie. Ek sal juis voorstel dat iemand wat nie homself kan help as dinge verkeerd gaan nie moet ‘n meer betroubare rekenaar hê wat ook van beter kwaliteit materiaal en komponente vervaardig is.

Waarborg

Die meeste skootrekenaars begin probleme gee na omtrent drie jaar. Beplan indien dit vir jou moontlik is om jou rekenaar elke drie jaar te vervang. Dit is nie vir almal moontlik nie maar indien jy dit kan doen kan jy jou vervaardiger waarborg by die beter handelsmerke verleng vir die drie jaar tydperk. Ek koop gereeld vir mense rekenaars aan en doen dit altyd. Dit beteken dat gedurende die tydperk wat jy die rekenaar gaan gebruik hy altyd deur die vervaardiger se goedgekeurde tegnikus herstel sal word met goedgekeurde parte.

Versorging

Maak jou rekenaar gereeld skoon met goedgekeurde rekenaar skoonmaakmiddels. Dit is beskikbaar by enige rekenaar winkel. Moenie huishoudelike skoonmaakmiddels gebruik nie. Huishoudelike skoonmaakmiddels bevat chemikalieë wat die materiaal sal verkleur en die skerm sal beskadig. Indien jy nie die regte skoonmaakmiddels het nie dan stel ek voor dat jy ‘n lint vrye sagte handdoek effens klam maak en die rekenaar net daarmee afvee.

Hantering

Ek gaan nou die onpopulêre ding sê: Die meeste rekenaar probleme word deur die gebruiker van die rekenaar self veroorsaak. Goedkoper rekenaars sal egter makliker beskadig word as duurder rekenaars wat van beter kwaliteit materiaal vervaardig word. ‘n Paar goed wat ek elke dag waarneem en waarvoor jy kan let is die volgende.Moets en moenies

  • Moenie met jou rekenaar rondloop as die skerm oop is nie. Veral as jou rekenaar ‘n rekenaar is met ‘n plastiek omhulsel. Hierdie rekenaars het ‘n raam van baie dun plaat binne die plastiek waaraan die komponente en skarniere gevoeg word. Elke tree wat jy gee is daar beweging a.g.v. die gewig van die oop skerm op die skarniere en die raam. Die skarniere, raam of self die moederbord wat aan die komponente met skroefies geheg word kan buig, breek of kraak. ‘n Moederbord met haarlyn krakies kan veroorsaak dat jou rekenaar soms werk en soms self afgaan of foutboodskappe gee. Jy sal dit veral agterkom as dit effens koeler is. Op kouer dae sal jy meer probleme ervaar as wanneer dit bietjie warmer is.
  • Moenie rou rekenaar afskakel wanneer die rekenaar besig is met ‘n “update” nie. Microsoft skep soms vir ons groot frustrasies wanneer dit ons dwing om eers ‘n update af te handel voor ons die rekenaar kan afskakel. Indien jy die update onderbreek kan daar probleme met die sagteware of die bedryfstelsel intree. Dit kan program foute veroorsaak en foutboodskappe gee wanneer programme gebruik word
  • Lees die instruksies op die skerm. Die meeste program probleme waar ek gebruikers moet help vind ek dat die program werk presies soos dit moet werk. Die gebruiker het eenvoudig nie die instruksies op die skerm gelees nie of dit nie reg verstaan nie en het toe die verkeerde keuses uitgevoer. MS Teams is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Wanneer jy die eerste keer inteken met jou gebruikersnaam en wagwoord kom daar ‘n skerm op wat vir jou sê dat Microsoft benodig addisionele inligting. Die meeste mense maak die skerm net toe en gaan voort. Indien jy die inligting verskaf sou jy self jou gebruikersnaam en wagwoord kon herwin of verander indien nodig. Indien jy dit net toemaak sal jy altyd vir die “administrator” moet kontak om jou hiermee te help. Dit is nie die program of die administrator se fout nie.

You don`t have permission to comment here!
­